Moet nooit ophou leer nie (2)

2024-01-04
Markus 12:30 NLV

Om God met jou hele verstand lief te hê, beteken om jou gedagtes te bestuur en die meeste daarvan te maak. Dit beteken dat jy God logies, kreatief, intuïtief en nadenkend liefhet. Albert Einstein, een van die geskiedenis se grootste denkers, het gesê: ‘Die belangrikste ding is om nooit op te hou bevraagteken nie. Nuuskierigheid het sy eie rede vir bestaan. ‘n Mens kan nie anders as om in verwondering te wees wanneer jy die geheimenisse van die ewigheid, van die lewe, van die wonderlike struktuur van die werklikheid oordink nie. Dit is genoeg as ‘n mens net probeer om elke dag ‘n bietjie van hierdie misterie te begryp. Moet nooit ‘n heilige nuuskierigheid verloor nie.’ Einstein het sy genialiteit afgemaak en gesê: ‘Ek het geen spesiale gawe nie, ek is net passievol nuuskierig.’

Die Bybel sê: ‘Die aarde behoort aan die Here, met alles wat daarop is, die wêreld en alles wat daarop lewe’ (Psalm 24:1 NLV). Jou nuuskierigheid moet geen perke hê nie. Die Latynse woord vir ‘opvoeding’ beteken ‘om uit te trek’ eerder as ‘om in te prop.’ Die meeste akademiese programme fokus op die dwangvoeding van kennis eerder as om nuuskierigheid vrye teuels te gee.

Wat is die resultaat? Ons weet sommige dinge, maar ons verloor die belangrikste: die liefde vir leer. In een studie by ‘n top-universiteit het die gegradueerdes met die hoogste punte een maand na hul gradeplegtigheid dieselfde eindeksamen afgelê. Almal van hulle het gedruip. Wanneer jy probeer om die waarheid in jou gedagtes in te prop, beweeg dit selde verby die korttermyngeheue. Dit bereik vir seker nie die siel in nie. Ongelukkig is dit soms wat in die kerk gebeur. Wat is die antwoord? Leef daagliks volgens God se Woord.

Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 2:13-18; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9