Moet nooit ophou leer nie (1)

2024-01-03
Markus 12:30 NLV

God het ons geskape met die kapasiteit om tot die dag wat ons sterf aan te hou leer, iets wat ons nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Die gemiddelde brein weeg ongeveer 1.3 kilogram, maar neuroloë skat dat ons die vermoë het om iets nuuts elke sekonde van elke minuut van elke uur van elke dag vir die volgende driehonderd miljoen jaar te kan leer. Dis wonderbaarlik!

Dis egter meer as dit. Dis ‘n wonderlike verpligting. Jesus het gesê: ‘Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse gemoed, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Dis onmoontlik om die persentasie wat ons brein gebruik te bepaal, maar almal van ons het onbenutte potensiaal. Jou verbeelding is in staat tot baie meer as wat jy ooit kan droom.

Tog hou die meeste van ons êrens langs die pad op om uit ons verbeelding te leef en begin uit ons herinneringe leef. Ons hou op om die toekoms te ontwerp en begin die verlede namaak. Dit is die dag wat ons ophou leef en begin sterf. Hoekom? Omdat ons ophou om ons kennis te verbreed. Om God met jou hele verstand lief te hê, verg dat jy jou verstand ten volle benut deur soveel as moontlik van soveel as moontlik te leer.

Die ware toets van geestelike volwassenheid is nie hoeveel jy weet nie, maar die hoeveelheid van dit wat jy nie weet nie. Dit is om jouself met die realiteit dat ons God nie soseer kan begryp nie, maar eerder net in verwondering voor Hom kan staan, te versoen. Daardie heilige gevoel van verwondering steek ‘n heilige nuuskierigheid aan die brand om meer oor die Skepper en sy skepping te bly leer.

Sielskos: 1 Tess 4-5; Matt 2:1-12; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4