Moet nooit God se Woord verwring nie

2022-11-28
Hebreërs 2:1 NLV

Ons moet aanhoudend ons Skriftuurlike fondasies herbevestig. Wat is hierdie grondwaarhede waarop die kerk van Jesus Christus gebou is? Die onfeilbaarheid van die Bybel; Christus se maagdelike geboorte; sy sondelose lewe; sy versoeningsdood; sy liggaamlike opstanding en bemiddelingswerk namens ons; ons behoefte om gered, gedoop en met die Heilige Gees vervul te word; en die opdrag om die evangelie na die vier uithoeke van die aarde uit te dra en die spoedige wederkoms van ons Here Jesus Christus om te heers, aan te kondig. Hierdie waarhede is ononderhandelbaar!

Jy sê: ‘Maar gaan dit ons nie bekrompe laat lyk nie?’ Nee, Paulus sê: ‘Vervloek is elkeen wat ‘n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ‘n boodskapper uit die hemel wees’ (Galasiërs 1:8 NLV). Kanker begin in een ongeïdentifiseerde sel, maar dit kan die hele liggaam vernietig. Dis hoekom Judas skryf: ‘…Maar nou voel ek verplig om… julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis wat eenmalig oorgelewer is aan God se mense. Want sekere mense het hulle in julle geledere ingewurm, goddelose mense wat reeds lank tevore vir die oordeel bestem was. Hulle verwring die onverdiende goedheid van ons God tot roekeloosheid en misken ons enigste Meester en Here, Jesus Christus’ (Judas verse 3-4 NLV).

Let die woorde: ‘eenmalig oorgelewer aan God se mense,’ op. Ons metodes om die wêreld te bereik mag dalk verander, maar ons boodskap mag nooit verander nie. Jy vra: ‘Maar is ons nie veronderstel om almal lief te hê nie?’ Ja, en dis hoekom ons nooit God se Woord moet verwring nie.

Sielskos: 2 Kron 18-20; Joh 11:45-57; Ps 114; Spr 27:20-22