Moenie vinnig oordeel nie

2024-10-25
Matteus 7:1 NLV

Die volgende het met Chuck Swindoll gebeur toe hy ‘n praatjie in Kalifornië gelewer het. “‘n Man het na hom toe gekom en gesê: ‘Ek het so lank vir hierdie week gewag, ek gaan alles wat jy sê indrink.’ Swindoll het hom bedank. Sondagaand het die man se kop begin knik en hy het aan die slaap geraak. Swindoll het gemeen dat hy seker ver gery het en heel waarskynlik moeg was. Dit het egter elke aand gebeur totdat die konferensie verby was. Swindoll was redelik ontsteld dat mense in die gehoor aan die slaap raak terwyl hy praat.

Die Vrydagoggend het die dame wat langs die slaperige man gesit het, na Swindoll toe gekom en gesê: ‘Ek wil jou vir jou bediening hierdie week bedank. O en terloops, ek is jammer dat my man die heeltyd aan die slaap geraak het. Hy het terminale kanker en die dokters het hom net ‘n paar weke gegee om te leef. Toe ons gepraat het oor wat hy wil doen voor hy sterf, het hy gesê: ‘Ek wil na Chuck Swindoll gaan luister.’ Die dokters het vir hom pynmedikasie gegee wat hom vaak maak. Ek wil verskoning vra dat hy geslaap het, maar dankie dat jy hierdie die beste week van die laaste gedeelte van sy lewe gemaak het.’ Swindoll het later gesê dat hy onder ‘n klip wou gaan wegkruip, want hy het iemand veroordeel sonder om al die feite te ken.”

Hoekom het Jesus gesê: ‘Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie’? Omdat daar dalk omstandighede en faktore in ‘n persoon se lewe mag wees wat jy nie verstaan nie. In plaas daarvan om hulle dus te oordeel, bewys aan hulle dieselfde genade wat God aan jou bewys het.

Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 27:13-16