Moenie terugkyk nie (1)

2022-12-29
Jesaja 43:18-19 NLV

In die woorde van die legendariese bofbalspeler Satchel Paige: ‘Moenie terugkyk nie. Iemand mag dalk besig wees om jou in te haal.’ Dis goeie raad! Paulus stel dit as volg: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).

Ellen Vaughn skryf: ‘Voor ons geestelike lewenskrag werklik kan vloei, moet ons drie dinge vergeet. [Ons kyk vandag na twee daarvan]. 1) Ons moet ons sondes vergeet. Natuurlik moet ons ons sondes onthou sodat ons hulle kan bely. Nadat ons dit egter gedoen het, moet ons hulle laat gaan. Die rekord van ons sonde word by God uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Satan wil ons graag verlei om met skuld en vrees te lewe. Hy herinner ons aan ons ergste sondes en laat dit oor en oor in ons gedagtes afspeel. Ons moet baie duidelik hier wees, anders sal ons die bevrydende punt misloop. Dit is nie asof vergifnis slegs werklik is as ons een of ander soort heilige geheueverlies ervaar nie. Dit hang nie van ons af nie. Dit hang van God af en die Skrif sê dat God ons sondes vergeet (sien Hebreërs 8:12).

2) Ons moet ons skaamte vergeet. Paulus kon ‘n uitstekende kandidaat vir skaamte gewees het. Hy het die teistering, tronkstraf, marteling en moord op onskuldige mense gelei. God se genade is egter sterker as ons skaamte. Skaamte het sy byt verloor toe Jesus gesterf het en weer opgestaan het. Ons kan ons skaamte vergeet, want Jesus het dit op Homself geneem. Hy het dit geminag, verslaan en gebreek. Ons hoef dit nie terug te neem nie.’

Die woord vir jou vandag is dus: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen…’

Sielskos: Sag 10-14; Spr 31:22-24