Moenie oor jou verlossing twyfel nie

2024-02-15
1 Johannes 5:13 NLV

Jy sal verras wees om uit te vind hoeveel mense oor hul verlossing twyfel. Kom ons maak dus God se Woord oop om die kwessie vir eens en altyd op te los: ‘…God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ‘n hegte verhouding met sy Seun. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe… Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (verse 11-13 NLV).

Vertrou jy op Christus om jou te red, eerder as om op jou eie goeie werke staat te maak? Dan is jy gered! Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe’ (Johannes 6:47 NLV). Twyfel ontstaan altyd wanneer jy na jou gevoelens, eerder as jou Bybel, luister. Jou gevoelens is soos die weer; dit verander konstant. Die duiwel sal jou ook probeer oortuig dat verlossing goed vir ander mense werk, maar dat dit nie vir jou sal werk nie. Die Bybel noem Satan ‘n leuenaar (sien Johannes 8:44). Paulus skryf: ‘…ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms’ (2 Timoteus 1:12 NLV).

Wanneer jou geloof dus wankelrig voel, stop en bid: ‘Here Jesus, ek het my vertroue in U geplaas. U Woord sê dat ek kan weet dat ek die ewige lewe sal verkry. Dis nie ‘n kwessie van goed genoeg of waardig genoeg voel nie, maar die geloof dat U waardig is. Ek plaas dus my vertroue in U, kies om u Woord te glo en verwerp my vertwyfelinge.’

Sielskos: Tit 1-3; Matt 13:24-35; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22