Moenie in die verlede vasgevang word nie
2024-07-01Genesis 19:17 NLV
Voor God vir Sodom en Gomorra vernietig het, het Hy engele na Lot en sy familie gestuur om hulle te waarsku om die stad te verlaat: ‘…Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan… Agter hom het Lot se vrou omgekyk en in ‘n soutpilaar verander’ (verse 17,26 NLV). Deur om te kyk, het Lot se vrou ‘n direkte instruksie van God verontagsaam. Gevolglik het sy gesterf – vasgevang in die verlede. Hier is drie belangrike lesse te leer.
1) ‘Moet nêrens in die vlakte stilstaan nie!’ Ons almal gaan deur hoogtes en laagtes, maar jy moet nie in die laagtes vasgevang raak of daar tent opslaan nie.
2) ‘En moenie omkyk nie!’ Die rede hoekom die windskerm van jou kar groter as die truspieëltjie is, is omdat jy veronderstel is om die meerderheid van die tyd vorentoe te kyk en net af en toe terug te kyk sodat jy veilig vorentoe kan beweeg en jou bestemming kan bereik.
3) ‘Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.’ Wanneer iemand jou seermaak, het jy twee keuses: Om terug te slaan of vorentoe te beweeg. Wanneer jy terugslaan, begin iets geestelik binne jou doodgaan. Wanneer jy egter vorentoe beweeg, word jy sterker, wyser en meer volwasse.
Wanneer jy in die verlede vasgevang word, is dit altyd ten koste van die toekoms. Altyd! God het beter dae en beter dinge vir jou in gedagte. Vergewe dus, vergeet en beweeg vorentoe.
Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 3:11-20; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26