Moenie in ander mense se sake inmeng nie
2019-01-122 Tessalonisense 3:11 NLV
Eendag het Petrus vir Johannes gekyk en vir Jesus gevra: ‘…Wat van hom, Here?’ Jesus reageer daarop: ‘…wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!’ (Johannes 21:21-22 NLV). As die apostel Petrus in die moeilikheid kon kom omdat hy ingemeng het, kan enigeen van ons in die moeilikheid daaroor kom. Die kwessie gaan nie daaroor om ander mense te help nie; dit gaan daaroor om te weet wanneer om jou by jou eie besigheid te bepaal. Soms spring ons in en probeer probleme oplos sonder dat ons gevra word. Nie net is ons pogings vrugteloos nie, ons word ook daarvoor verkwalik. Soos jy geestelik meer volwasse word en oor jou behoefte kom om almal ‘reg te sien’, word die lewe eenvoudiger. Noudat jy nie meer inmeng waar jy nie uitgenooi is nie, is jy meer beskikbaar om te help waar jy regtig benodig word. Weet jy hoekom ons so baie op ander mense se tekortkominge fokus? Ja, om te keer dat ons nie te veel selfondersoek instel nie. Die enigste ding wat jy aan ander mense kan verander – is jou houding teenoor hulle. Paulus skryf: ‘Ons sê dit omdat ons hoor dat sommige mense… hulle met ander persone se sake bemoei. In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense… dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien’ (2 Tessalonisense 3:11-12 NLV). ‘n Berader sê: ‘Om ‘n vredemaker te wees beteken nie dat ons in die middel gaan staan nie. Ons is draers van vrede deurdat ons self vredig bly en nie ekstra chaos veroorsaak wanneer ons in die middel van ander mense se sake en verhoudings kom nie.’
Sielskos: Jes 38-41; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6