Moenie eiegeregtig wees nie

2023-01-13
Romeine 12:3 NLV

‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word’ (Lukas 18:10-14 NLV).

God het meer geduld met ‘n eerlike sondaar as met ‘n selfvoldane Christen. Toe die Fariseër homself gelukgewens het met die sondes wat hy nie gepleeg het nie – kullery, owerspel ens – was hy skuldig aan die sonde van geestelike trots. Watter goeie gedrag is vir jou ‘n bron van trots? Oordeel jy ander volgens jou optrede?

Die enigste optrede wat enigeen van ons voor God aanvaarbaar maak, is op Christus se optrede aan die kruis gebaseer. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Die geregtigheid wat ons red, word toegereken – nie verdien nie. Moet dus nie eiegeregtig wees nie!

Sielskos: Jes 38-41; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6