Moenie daaroor stry nie
2023-07-27Spreuke 17:14 NLV
Het jy al ooit die plakker gesien wat lees: ‘Mense wat dink hulle weet alles is veral irriterend vir diegene van ons wat wel alles weet’? Jy sal sulke mense wat dink hulle weet alles, orals vind. Ouer mense wat bang is vir nutteloosheid, strewe daarna om te bewys dat hulle nog baie kennis het. Godsdienstige mense gebruik hul oortuigings soos ‘n knuppel om ander oor die kop te slaan. Die Bybel sê: ‘…hou [aan] stry vir die geloofsbelydenis…’ (Judas vers 3 NLV).
Daar is egter ‘n verskil tussen om te stry en om twissoekerig te wees. Paulus skryf: ‘Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie. Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense’ (2 Timoteus 2:23-24 NLV). Let hierdie vier frases op:
1) ‘Moenie twis nie.’ Moenie argumenteer nie, plant net die saad van God se Woord en vertrou die Heilige Gees om in mense se harte te werk.
2) ‘Goedgesind teenoor almal.’ Daar is geen rede om vyandig, vernederend of onaangenaam teenoor iemand wat nie jou mening deel, te wees nie.
3) ‘Doeltreffend te onderrig.’ In plaas daarvan om jou opinie op iemand af te dwing, sê eenvoudig net: ‘Ek het die volgende in God se Woord ontdek en dit het hierdie verskil in my lewe gemaak.’
4). ‘Geduldig wees.’ Eers wanneer jou eie seer genees is, kan God jou gebruik om ander se seer te genees.
Bid dus: ‘Vader, maak my ‘n instrument van vrede sodat mense ontvanklik sal wees vir die waarhede wat U deur my aan hulle openbaar. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Hand 20-21; Matt 28:1-10; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19