Moenie afgunstig wees nie
2024-10-10Eksodus 20:17 NLV
Afguns, in wese, beskuldig God daarvan dat Hy onregverdig en onbewus is van wat die beste vir ons lewens is. Daarom moet ons afguns totaal en al verban wanneer dit in ons lewens verskyn. Hier is ses maniere om dit te doen:
1) Bely en bekeer jou van jou onsuiwer bedoelings wanneer jy enigiets wil hê wat nie tot eer van God is nie. ‘As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg!’ (Jakobus 3:14 NLV).
2) Tel jou seëninge. Jaloesie skiet in ontevredenheid wortel. Ons is dikwels so onsteld oor iemand anders se goeie geluk dat ons nie ons eie seëninge en voordele kan raaksien nie. Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Afguns is die gewoonte om iemand anders se seëninge in plaas van jou eie te tel.’
3) Aanvaar wat afguns jou wys wat jy moet verander sodat jy jou lewensdoel kan bereik. Bid die volgende: ‘God, skenk my die kalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om te verander wat ek kan verander; en die wysheid om die verskil te ken.’
4) Indien moontlik, bestee tyd saam met die persoon op wie jy jaloers is en leer meer oor hulle sleutel tot sukses. In die proses mag jy dalk besef dat hulle ‘n menigte probleme het, wat jou afguns kan laat afneem.
5) In plaas daarvan om ‘n negatiewe aanmerking te maak wanneer daar met waardering en bewondering van iemand gepraat word, probeer om woorde van lof te spreek.
6) Hou op om ‘n ander persoon se sukses as jou mislukking te sien. In plaas daarvan om te dink dat hulle hul seëninge ten koste van jou ontvang het, begin glo dat die God wat hulle geseën het, jou ook wil seën.
Sielskos: Eks 16-18; Joh 2:1-11; Ps 23; Spr 26:10-12