Mediteer-perkoleer (3)
2023-01-09Josua 1:8 NLV
Bybelmeditasie het in onguns verval, omdat ons in ‘n onmiddellike en besige samelewing leef. Ons het so baie dinge van televisies, selfone, e-posse, sms’e, satellietskakels, nuusberigte en potgooie wat ons aandag verg, dat ons skaars ‘n oomblik het om te reageer, wat nog te sê daaroor te reflekteer. Jy kan egter nie geestelike volwassenheid ‘aflaai’ deur ‘n paar knoppies op die sleutelbord van ‘n rekenaar te druk nie. Dis hoekom die Skrif so dikwels oor meditasie praat.
God, die outeur van die Bybel, het vir Josua die formule gegee om sukses in jou beroep te behaal en voorspoed vir alles wat jy aanpak, te verkry: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (vers 8 NLV). Om sukses in die lewe te behaal, moet jy iets doen. Wat? Jy moet oor God se Woord mediteer! Hoe gereeld? ‘Dag en nag.’
Watter gedeelte van die Skrif het jy oor nagedink vanoggend toe jy jou dag begin het? Of toe jy werk toe bestuur het? Wanneer laas het jy bewustelik oor enige Bybelse waarheid of beginsel gereflekteer?
As jy nie kan onthou nie, moet jy dadelik begin om veranderinge aan te bring. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien’ (1 Timoteus 4:15 NLV). Dis nog steeds die reël!
Sielskos: Jes 22-25; Luk 1:67-80; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31