Maak op God staat (3)

2024-09-30
2 Korintiërs 3:5 NLV

Wanneer God iemand in die Bybel roep om iets te doen, sal jy oplet dat hulle nie opspring en sê: ‘Geen probleem, ek is gereed,’ nie. Keer op keer vertel hulle vir God hoekom hulle dit nie kan doen nie. Kyk na die volgende lys mense. Moses: ‘…Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas’ (Eksodus 4:10 NLV). Gideon: ‘…hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (Rigters 6:15 NLV). Abraham: ‘…Hoe kan ek op 100 jaar pa word?..’ (Genesis 17:17 NLV). Jeremia: ‘…ek kan nie goed praat nie. Ek is ook te jonk!’ (Jeremia 1:6 NLV). Jesaja: ‘…Ellende het my getref! Want ek is ‘n sondige mens…’ (Jesaja 6:5 NLV). Ester: ‘[Almal]… weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan as hulle nie ontbied is nie, net daar doodgemaak word…’ (Ester 4:11 NLV). Die ryk jong man: ‘…hy [het] geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad’ (Matteus 19:22 NLV). Saul: ‘…Toe antwoord die Here: ‘Hy kruip weg agter die mense se reisgoed” (1 Samuel 10:22 NLV). (Dit het gebeur toe Samuel vir Saul as koning aangewys het, maar die mense hom nie kon kry nie en vir die Here gevra het waar hy is.)

Wat ‘n groot lys verskonings: praat te sleg, te swak, te oud, te jonk, te sondig, te gevaarlik, te ryk, te huiwerig – tog het God elkeen van hulle gebruik om sy doelwitte te vervul. Paulus sê vir ons hoekom: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God’. Maak vandag op God staat.

Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:13-24; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16