Maak op God staat (2)

2024-09-29
Matteus 28:19-20 NLV

Die laaste ding wat Jesus vir sy dissipels gesê het voor Hy hemel toe opgevaar het, was die volgende: ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels… Ek is vir altyd by julle…’ Wanneer God ons ‘n opdrag of ‘n instruksie gee, verg dit altyd sy betrokkenheid, sy krag, sy leiding en sy voorsiening. Sal Hy jou talente gebruik? Ja. Sal Hy ander mense gebruik om jou te help en jou te seën? Ja. Hy sal egter nooit toelaat dat jy meer op enigiemand anders as op Hom staatmaak nie. Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om die wêreld te gaan verander, was daar twee merkwaardige uitdagings.

Eerstens, was daar net elf dissipels oor. Dwarsdeur die Evangelies herinner die getal twaalf lesers daaraan dat die dissipels gekies is om ‘n voorstelling van die verloste twaalf stamme van Israel te wees. Twaalf is die getal van volledigheid, heelheid en gereedheid. Dit gaan egter nie net daaroor dat hulle die verkeerde getal gehad het nie. Na Christus se opstanding lees ons: ‘Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het’ (verse 16-17 NLV).

Hulle het nie genoeg dissipels gehad nie en die wat hulle gehad het, het nie genoeg geglo nie. Tog het God hulle kragtig gebruik. Inderdaad, die beskuldiging wat deur hul vyande teen hulle gemaak is, het begin met een van hul grootste komplimente: ‘…Dít is die mense wat die hele wêreld om beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad’ (Handelinge 17:6 NLV). Die sleutel tot sukses lê dus nie in jou vermoë nie, maar in God se vermoë om deur jou te werk. Dis hoekom jy elke dag in afhanklikheid van God moet leef.

Sielskos: Heb 11:7; Gen 6:9-22; Gen 8:18-22; Matt 24:36-41