Maak op God staat (1)
2024-09-28Filippense 4:13 NLV
Paulus deel met ons die sleutel tot sy wonderlike sukses in die lewe: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’ Daar is ‘n sindroom wat ‘failure to launch’ genoem word. Dit word deur mense wat onseker oor hulle toekoms voel, ervaar. Dit lyk of hulle nooit by die plek in die lewe uitkom waar hulle gereed voel nie, dus loop hulle geleenthede mis.
Die lewe sê: ‘Gereed of nie, hier kom ek.’ Die lewe se onvermydelikheid beteken egter nie dat voorbereiding onbenullig is nie; dis steeds belangrik. Om heeltemal gereed te voel, word egter oorskat. Ons word geroep om in geloof te lewe, want: ‘…ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV).
Toe God die Israeliete na die Beloofde Land gebring het, het Hy vir hulle gesê om in die Jordaanrivier in te gaan; eers daarna het Hy die water geskei. As hulle eers vir bewyse gewag het, sou hulle nou nog op die oewer van die rivier gewag het. Geloof groei wanneer God sê gaan en jy ja sê. Die waarheid is dat jy nie weet wat jy kan vermag totdat jy dit doen nie. Om gereed te wees gebeur vinniger wanneer jy alreeds aan die beweeg is. As jy wag om te beweeg totdat jy heeltemal gereed is, sal jy wag tot jy doodgaan.
Jesus sê nie vir ons: ‘Gaan; jy is gereed,’ nie. Hy sê vir ons: ‘Gaan; Ek sal saam met jou gaan.’ Jy sal groei soos jy ‘gaan.’ Jy sal ontwikkel soos jy ‘doen.’ Hier is die sleutel: Die ding wat jou gereed vir alles maak, is Hy wat sy krag met jou deel. God het dit so ontwerp, omdat Hy wil hê dat jy op Hom moet staat maak.
Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:1-12; Ps 91; Spr 25:9-12