Maak ‘n impak

2024-04-24
Hebreërs 12:1-2 NLV

Die mans en vrouens wat die grootste impak op die wêreld gemaak het, was diegene wat totaal gefokus en toegewyd aan hulle visie was. John Wesley, die stigter van die Metodiste kerk, het een keer gesê: ‘As ek driehonderd manne gehad het wat niks anders as God gevrees het nie, niks anders as sonde gehaat het nie en vasbeslote was om niks anders behalwe van Jesus Christus en Hom wat gekruisig is te weet nie, sou ek die wêreld aan die brand kon steek.’ Jonathan Edwards, wie se bediening die Groot Herlewing in Amerika veroorsaak het, het die volgende sy lewensleuse gemaak: ‘Voorneme Een: Ek sal vir God lewe. Voorneme Twee: As niemand anders dit doen nie, sal ek steeds.’

C.T. Studd, een van Engeland se grootste atlete, het die wêreld geskok toe hy roem en rykdom prysgegee het om ‘n sendeling in China te wees. ‘As Jesus Christus God is en vir my gesterf het, dan kan geen opoffering te groot vir my wees om vir Hom te maak nie,’ het hy verduidelik. Die sendeling Jim Elliot, wat as martelaar in Suid-Amerika gesterf het, het gesê: ‘Die persoon wat gee wat hy nie kan behou nie, om dit te verkry wat hy nie kan verloor nie, is geen dwaas nie.’

Die dag toe jy gebore is, het God ‘n baan vir jou gehad om op te hardloop. Om egter te wen, moet jy ontslae raak van: 1) enigiets wat jou afrem, en 2) enigiets wat jou laat struikel. ‘…Kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus…’ (verse 1-2 NLV).

Sielskos: Hand 14-15; Mark 4:21-29; Ps 16; Spr 11:1-2