Maak jy jou kinders alleen groot?
2023-03-19Psalm 30:6 NLV
Een huwelikskenner vertel dat ‘n enkelma hom ‘n verhaal gestuur het wat gehelp het om die eensaamheid en stres om kinders alleen groot te maak, te verduidelik. Sy sê dat sy een reënerige dag by haar venster uitgekyk het en ‘n rooiborsie en haar kuikens in hul nes gesien het. Soos die reën geval het, het die rooiborsie haar kuikens met haar uitgestrekte vlerke bedek. Toe het dit begin hael. In plaas daarvan om haar kop veilig in die nes te druk, het die rooiborsie haar kop opwaarts gestrek en die houe gevat om haar kuikens te beskerm. Al die kuikens het dit veilig deur die storm gemaak. Wat ‘n grafiese illustrasie van die uitdagings van enkelouerskap!
Die verantwoordelikheid om kinders alleen groot te maak is meedoënloos en vereis van ‘n ma of pa om geld te verdien, te kook, skoon te maak, toesig te hou oor huiswerk, vir siek kinders te sorg, ensovoorts. Tussendeur hierdie daaglikse verpligtinge, moet hulle ook uitpluis hoe om aan hulle eie persoonlike en geestelike behoeftes te voldoen. In konteks geneem, mag dit dalk een van die moeilikste opdragte op aarde wees.
Enkelouers, hetsy nou moeders of vaders, het ons voortdurende ondersteuning en gebede nodig. Aan diegene wat die houe namens hulle kinders neem, wees verseker dat daar beter dae aan die kom is. Die storm waarin jy jou tans bevind, sal nie vir ewig duur nie. ‘n Pragtige reënboog sal binnekort te voorskyn kom. Wanneer die werk voltooi is en die kroos gesonde klein voëltjies groot is, sal daar soete voordele vir die ouers wat nie wegvlieg nie, wees. God se Woord beloof: ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.’
Sielskos: Jes 40:1-31; Joh 9:1-39