Maak die regte keuse

2024-09-18
Spreuke 2:6 NLV

Miskien kom jou gradeplegtigheid nader. Meer dikwels as ooit tevore, verwissel mense van poste en maatskappye en verander hulle hulle loopbaan. In 2014 het die loopbaanspesialis Andy Chan opgemerk dat jong volwassenes gemiddeld nege-en-twintig verskillende poste oor hul leeftyd sal vul. In 2013 het navorsers by Oxford Universiteit voorspel dat omtrent die helfte van poste teen 2033 deur tegnologie vervang sal wees. Hoe pas jy dus in ‘n omgewing wat aanhoudend verander aan?

Miskien is jy in ‘n groef. Jou lewe is veilig maar van weinig nut. Jy wil meer doen en meer wees. Miskien staar jy ‘n leë nes in die gesig. Jy ervaar skielik onafhanlikheid, tyd en opsies wat vir dekades lank nie aan jou beskikbaar was nie. Wat is die beste manier om dit te gebruik? Miskien tree jy binnekort af. Wat het God volgende vir jou in gedagte? Miskien het jy oorsee gereis en ‘n groot behoefte raakgesien, of ‘n probleem ondersoek waaraan jy ‘n verskil wil maak. Wat moet jy volgende doen? Miskien oorweeg jy dit om te trou. Hoe weet jy dat die persoon die regte een is? Wat as jy ‘n fout maak? Of dalk tob jy oor ‘n geleentheid in jou verlede wat jy misgeloop het. Sal God vir jou ‘n ander een gee?

Jy moet twee dinge in gedagte hou wanneer jy hierdie vrae beantwoord. In die eerste plek is God meer geïnteresseerd in wat jy word as waarheen jy gaan of wat jy vir ‘n lewe doen. Sy doelwit vir jou lewe is om jou soos Christus te laat word (sien Romeine 8:29). Tweedens, sal jy jouself ‘n klomp tyd, moeilikheid en moontlike hartseer spaar deur God eers te raadpleeg voordat jy enige besluite neem. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en krag’ (Spreuke 2:6 NLV).

Sielskos: Mig 1-4; Luk 22:24-38; Ps 78:65-72; Spr 24:10-14