Luister meer aandagtig

2024-01-24
Markus 7:14 NLV

Jesus het gesê: ‘…Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.’ Hy het lewensveranderende woorde gespreek, maar tog verstaan dat besige gedagtes nie altyd so goed luister nie. Is jy ‘n goeie luisteraar?

1) As jy ‘n leier is, luister jy na jou volgelinge? Die tipe leiers wat mense wil volg doen meer as net besigheid wanneer hulle met jou praat; hulle neem die tyd om ‘n gevoel te kry van wie jy as persoon is. As jy gewoond is om net na die feite te luister en nie na die persoon nie, moet jy jou fokus verander en regtig luister.

2) As jy besigheid doen, luister jy na jou kliënte? Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Luister na die fluisteringe en jy sal nie die gille hoef te hoor nie.’ Moenie so vasgevang in jou eie idees en produkte raak dat jy nie jou kliënte se bekommernisse, klagtes en voorstelle hoor nie. In sy boek, Business @ the Speed of Thought, sê die voormalige president van Microsoft, Bill Gates, die volgende: ‘Ongelukkige kliënte is altyd ‘n bekommernis. Hulle is egter ook jou grootste geleentheid.’ Dis hoekom jy dit ‘n prioriteit moet maak om in kontak met die mense wie jy dien, te bly.

3) As jy toegewyd daaraan is om te groei, luister jy na jou mentors? Jy sal nooit so vooruitstrewend of ervare wees dat jy dit kan bekostig om sonder mentors te wees nie. As jy nie een het nie, gaan uit en gaan soek hulle. As jy niemand kan kry nie, begin deur die regte boeke te lees, jou Bybel heel eerste. As jy nie in die voetstappe van iemand wyser volg nie, is die kans goed dat jy nie op die regte pad is nie.

Sielskos: Jak 1-2; Matt 8:18-27; Ps 91; Spr 3:3-4