Loof God elke dag
2018-01-29Openbaring 4:11 NLV
‘n Christelike boer het sy perd geleer om te stop en te loop. Wanneer hy wou hê dat die perd moes begin loop, het hy, ‘Prys die Here,’ gesê. Wanneer hy die perd wou laat stop, sou hy, ‘Halleluja,’ skree. Alles het goed gegaan tot een dag toe ‘n donderslag die perd laat skrik het en hy teen volle spoed weggetrek het. Toe die boer besef dat hy beheer oor die perd verloor het, het hy paniekerig geraak en die bevele vergeet wat hy die perd geleer het. Voor hulle het ‘n krans skielik opgedoem. Desperaat het die boer elke godsdienstige woord wat hy nog ooit gehoor het, geskree. ‘Amen! Jesus red! Waardig! Heilig!’ Niks het gewerk nie. Net toe die perd amper op die afgrond is, het die boer ‘Halleluja!’ geskree. Die perd het daar op die kant van die afgrond tot stilstand gekom. Verlig het die boer die sweet van sy voorkop afgevee en gesê, ‘Sjoe, prys die Here!’ Op ‘n ernstiger noot, dis nie net Sondae in die kerk wat ons God moet loof nie. ‘Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die naam van die Here geprys word’ (Psalm 113:3 NLV). Dit beteken dat jou eerste woorde in die oggend en jou laaste woorde in die aand, lofprysing tot God moet wees. ‘Hoekom moet ek God elke dag loof?’ vra jy. Omdat Hy waardig is om jou lof te ontvang. ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang…’ Woorde van liefde en waardering wat hardop gespreek word bring mense nader aan mekaar en skep intimiteit. Wil jy nader aan God beweeg? Begin om Hom meer te loof.
Sielskos: Num 4:34-6:27; Matt 10:32-42; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12