Loof die Here altyd

2024-06-17
Handelinge 16:25 NLV

Moenie toelaat dat dit wat verkeerd is met jou, jou daarvan weerhou om dit wat reg is met God, te loof nie. Met hul voete in houtblokke vasgeklem, hulle rûe met swepe oopgekloof en die onregverdige minagting van die samelewing op hulle opgehoop, sê die Bybel: ‘Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…’ Hulle het besluit om op te hou fokus op dit wat met hulle omstandighede verkeerd was en te begin fokus op dit wat reg met God was. Hulle kon gekla het, maar hulle het die keuse gemaak om God ten spyte van hulle eksterne omstandighede te loof.

Dit is dikwels die uitdagendste en noodsaaklikste keuse wat ons kan maak. Dit is soortgelyk daaraan om die verfris-knoppie op jou rekenaar te druk. Deur dit te doen herstel jy die vreugde van jou verlossing, jy herkalibreer jou gees en vernuwe jou gedagtes. Dit bemagtig jou om iets goeds waaroor jy God kan loof, te ontdek, selfs wanneer dit lyk of alles verkeerd gaan.

Is dit maklik? Definitief nie. Een van die suiwerste vorms van aanbidding is egter om God te loof wanneer jy dit nie wil doen nie. ‘Kom ons bring dan… ‘n voortdurende lofoffer aan God – ‘n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely’ (Hebreërs 13:15 NLV). Dis ‘n opoffering wat God roer en resultate meebring: ‘Skielik kom daar ‘n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!’ (Handelinge 16:26 NLV). Wanneer jy jouself in ‘n situasie met geen uitweg bevind nie, maak lofprysing deure oop. Wanneer jy deur tekort en beperking geboei word, breek lofprysing kettings. Loof dus jou pad daardeur.

Sielskos: Eseg 34-36; Luk 1:1-10; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17