Lewe volgens jou oortuigings (2)

2020-03-29
1 Korintiërs 4:4 NLV

Daniël is geforseer om te besluit of hy gaan konformeer en of hy gaan transformeer. Wat is die verskil? Druk beheer iemand wat konformeer. As jy genoeg druk op hulle sit, sal hulle ingee. As jy genoeg druk op hulle sit, sal hulle die eerste sigaret rook, sal hulle die eerste drankie drink, sal hulle doen wat almal anders doen. Beginsels beheer egter iemand wat transformeer. Jy sê: ‘Dis baie veeleisend om so te lewe.’ Ja, maar dis ook baie beskermend. God weet beter as ons hoe om pyn, frustrasie en vernietiging in ons lewens te vermy. Omdat Hy die rand van die krans duideliker as ons sien, plaas Hy relings om die rand om ons te beskerm sodat ons nie daar afval nie. Wanneer ons sy bevele gehoorsaam, vermy ons hartseer, slaggate en die verlies van ons reputasie. Dit was nie as gevolg van sy dieet nie, maar sy toewyding aan God wat Daniël verhoed het om die koning se kos te eet. Ons beveel egter nie aan dat jou gewete jou altyd moet lei nie. Jou gewete is nie altyd ‘n goeie riglyn nie. Jou gewete kan beskadig wees of selfs dood wees. Die Bybel sê: ‘…Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood’ (1 Timoteus 4:2 NLV). Paulus skryf: ‘My gewete is skoon, maar daarmee is ek nog nie noodwendig skotvry nie. Die Hére se oordeel oor my is al wat saak maak.’ Nietemin moet jy eerste na jou gewete draai wanneer jy voor ‘n moeilike besluit te staan kom. Jy maak selde ‘n besluit wanneer jy weet dat daardie besluit jou gewete skuldig gaan laat voel. Lewe dus volgens jou oortuigings.

Sielskos: Matt 5:6; Jes 55:1-7; Ps 63:1-5; Joh 4:1-34