Lewe volgens jou oortuigings (1)
2020-03-28Daniël 1:8 NLV
Die Bybel sê: ‘Daniël het egter besluit dat hy nie homself met die koning se kos en drank gaan ontheilig nie. Hy het die hoofamptenaar versoek om nie daarvan te eet nie.’ Hierdie spesifieke kos en drank was aan die heidense gode as ‘n daad van lofprysing geoffer en vir Daniël was dit onaanvaarbaar. Dit sou sy karakter in gevaar stel en hy sou dit nie toelaat nie. Daniël het goeie redes gehad as hy sou kies om ja te sê. Hy was ver van die huis af en kon doen wat hy wil. Plus, as hy dit nie geëet het nie, sou hy die koning beledig – nie ‘n goeie loopbaanskuif nie! Daniël het egter geweet dat God se Woord duidelik is as dit by afgodery kom en God het hom daarvoor geseën. Hy is op die ou einde op ondenkbare maniere beskerm, onderhou, bevorder en voorspoedig gemaak. Sy filosofie was: ‘As God ja sê, sê ek ja. Wanneer God nee sê, sê ek nee.’ Hy het sy oortuigings bepaal voor hy in Babilon aangekom het. Het jy al besluit wat jou kernwaardes is? Het jy in die goeie tye die tyd geneem om te bepaal wat jy in die moeilike tye sal doen en nie sal doen nie? As jy dit nog nie gedoen het nie, begin dadelik daarmee. Daniël se vriende het waarskynlik vir hom gesê: ‘Niemand sal weet nie.’ Hy het egter besef: ‘God sal weet en ek sal weet. Ek hoef nie saam met jou te leef nie, maar ek moet met myself kan lewe.’ Jou gedagtes en idees moet altyd oop vir verandering en verbetering wees, maar jou kernwaardes moet ononderhandelbaar wees. Lewe dus volgens jou oortuigings.
Sielskos: Job 32-34; Matt 26:14-25; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31