Lewe in die ‘hier en nou’

2024-04-30
Psalm 118:24 NLV

God wil hê dat ons die seisoen waarin ons is, moet geniet; dat ons in die ‘hier en nou’ moet lewe. Sommige mense lewe net vir die toekoms. ‘Ek sal gelukkig wees wanneer…’ Ander mense leef net in die verlede. Salomo spreek hulle aan: ‘Moenie sê: ‘Waarom was die ou dae beter as die huidige?’ nie. Dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vra nie’ (Prediker 7:10 NLV).

Die New Yorker tydskrif het een keer ‘n strokiesprent van twee monnike in togas met kaalgeskeerde koppe wat kruisbeen langs mekaar op die vloer sit, gedruk. Die jonger monnik, met ‘n vraende uitdrukking op sy gesig, luister na die ouer een wat sê: ‘Niks gebeur volgende nie. Hierdie is dit.’ Dis presies wat dit beteken om in die hier en nou te leef. Ons wag nie vir iets om te gebeur nie, ons aandag word nie deur iets rondom ons afgetrek nie, ons probeer nie in ons gedagtes na ‘n ander tyd ontsnap nie. Ons is ten volle lewendig omdat ons in die oomblik lewe! God mag dalk groot dinge vir jou in die verlede gedoen het en jy vertrou Hom om vir jou groot dinge in die toekoms te doen, maar sy teenwoordigheid, sy krag, sy goedheid, sy guns, sy seën en alles wat Hy is, kan net in die hier en nou ervaar word.

Vraag: Leef jy in ‘n dop om te keer dat jy lewendig deur die pyn van die lewe opgevreet word? Bewaak jy jouself deur dieper in jou dop terug te trek, net om beskikbaar te wees vir dit wat aangenaam, voorspelbaar en veilig is? ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.’ Lewe in die ‘hier en nou.’

Sielskos: Hand 24-26; Mark 5:21-30; Ps 94:1-11; Spr 11:14-15