Leierskap kan eensaam wees

2024-10-11
2 Timoteus 4:16-17 NLV

Een van die dinge wat leiers weet, is dat hoewel baie mense nooit self ‘n leier sal wees nie, daar baie mense is wat bereid is om jou te kritiseer en vir die hele wêreld te vertel hoe hulle beter weet en hoekom jy dit verkeerd gedoen het! Terwyl jy altyd meer sal bereik wanneer jy saam met ander mense werk, kan jy nie altyd daarop staatmaak dat almal van jou gaan hou of jou ondersteun nie. Dus moet jy op jou Godgegewe doelwitte gefokus bly, wees wie jy is en vertrou op God om te doen wat jy nie kan nie.

Ware leiers maak moeilike besluite, selfs al beteken dit dat hulle minder gewild gaan wees. Die pad na ware leierskap kan eensaam wees. Wanneer jy egter jou doelwitte bereik, is die beloning enorm. Paulus skryf: ‘Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die heidene dit kan hoor… Ja, en die Here sal my verlos van enige aanval en my veilig in sy hemelse koninkryk bring…’ (verse 16-18 NLV).

Wanneer ander mense jou verlaat, sal die Here by jou staan. Die Here sal jou versterk en beloon. Jy is geroep om ander mense lief te hê en saam met hulle te werk. As jy agterkom dat jy onopsetlik dinge doen wat ander vervreem of ontmoedig, vra God vir wysheid en insig om die situasie reg te stel. Weet egter die volgende: Wanneer jy niemand anders behalwe God oor het nie, sal jy ontdek dat God genoeg is!

Sielskos: Eks 19-21; Joh 2:12-25; Ps 110; Spr 26:13-16