Lei jou brein op

2024-06-13
Nehemia 8:10 NLV

Enige tyd wat jy geloof in God en gehoorsaamheid aan sy Woord met positiewe denke vervang, beweeg jy op gevaarlike grond. Moet egter nie die baba met die badwater uitgooi nie. As gelowige, is jy veronderstel om jou brein op te lei om God te vertrou en positiewe denke wat op sy Woord gegrond is, te dink. ‘n Studie wat in Nederland gedoen is, het gevind dat mense wat optimisties is gesonder harte as mense wat iesegrimmig is, het. Mense wat hulself as optimiste beskryf, het teen ‘n baie laer koers aan hartsiektes as pessimiste gesterf.

Dr Becca Levy van Yale Universiteit het ‘n studie gedoen wat bevind het dat ‘n positiewe houding teenoor veroudering beter vaar as fisiologiese maatstawwe soos lae bloeddruk en lae cholesterol om lewensjare te verleng. Dieselfde studie het bevind dat optimistiese mense langer lewe as diegene wat altyd bekommerd is en dat ‘n positiewe houding meer jare as om te oefen of om nie te rook nie, by mense se lewens voeg.

‘n Artikel wat in 2005 in die Associated Press gepubliseer is, het gesê: ‘Nuwe navorsing dui daarop dat sodra Alzheimer se siekte iemand van die verwagting dat ‘n bewese pynstiller hulle sal help, beroof, die pynstiller nie naastenby meer so goed werk nie.’ Is dit nie merkwaardig nie? Wanneer mense dink pynstillers werk, lyk dit of die medisyne wel help. Ons gedagtes is wonderlik! Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ Dis nie net ‘n geestelike krag nie, maar ook ‘n fisiese en emosionele krag. As jy ‘n gesonde lewe wil lei, moet jou gedagtes ook gesond wees en dit begin deur positief in plaas van negatief te dink. Lei dus jou brein op.

Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 15:21-32; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7