Lees die tekens van jou kinders

2024-01-17
Psalm 34:12 NLV

Die Smithsonian tydskrif het eenkeer oor ‘n meester-klipkapper uit Engeland, genaamd Simon Verity, berig. Hy het dertiende-eeuse katedrale in Groot Brittanje gerestoureer. Terwyl die skrywers gekyk het hoe hy werk, het hulle iets fassinerend opgemerk. ‘Verity het fyn geluister om die lied van die klip onder sy versigtige houe te hoor. ‘n Stewige hou en alles is wel. ‘n Hoër geluid kan moeilikheid beteken. ‘n Stuk rots kan afbreek. Hy pas gedurig die hoek van die beitel en die krag van die hamer by die toonhoogte aan, terwyl hy gereeld stilstaan om sy hand oor die vars gebeitelde oppervlak te vee.’ Verity het die belangrikheid van sy taak verstaan. Hy het geweet dat een verkeerde beweging verwoestend kon wees en onherstelbare skade aan sy kunswerk kon veroorsaak. Sy sukses was gewortel in sy vermoë om die tekens wat die klip stuur, te lees.

Ouer, jy moet jou vermoë om na jou kinders te luister opskerp, veral gedurende tye van dissipline en leiding. Dit verg ‘n groot hoeveelheid geduld en sensitiwiteit om jou kind se reaksie te interpreteer. As jy egter versigtig luister, sal hulle vir jou sê wat hulle dink en wat hulle voel. God sal jou help om dit te doen: ‘Die oppermagtige Here het my geleer… Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ‘n leerling betaam’ (Jesaja 50:4 NLV).

Elke seisoen in jou kind se ontwikkeling bring nuwe vrae wat nuwe antwoorde verg, mee. Om die regte antwoord te kan gee moet jy by die vraag wat hulle op daardie oomblik vra, ingeskakel wees. Nie net sal jy vir hulle die wysheid gee wat hulle op daardie oomblik nodig het nie, jy sal hulle ook leer hoe om dit met hulle eie kinders te doen.

Sielskos: Fil 1-4; Matt 6:9-18; Ps 79; Spr 2:9-10