Leer om grense te stel

2021-05-20
2 Timoteus 2:5 NLV

Is jy so gretig om in almal se goeie boekies te bly dat jy aan al hulle eise toegee? Jy is nie alleen nie! Een Bybelonderwyser skryf: “Een keer toe ek oor my hewige skedule gekla het, het ek God se Gees hoor sê: ‘Jy is die een wat die skedule opstel; as jy nie daarvan hou nie, doen iets daaraan!'” Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Volg die Here se gedragskode om sy werk te doen, net soos ‘n atleet volgens die reëls meeding, of andersins gediskwalifiseer word en geen prys wen nie’ (vers 5 NLV).

Nie elke probleem is geestelik nie, sommige probleme is fisies. Jy kan ook nie die duiwel vir dinge blameer wat jou eie fout is nie. Ons neem mense kwalik wat druk op ons uitoefen, maar tog hou ons aan om te doen wat hulle wil hê, wat ons stil woede voed. Jy laat jouself toe om onder druk te wees deur nie verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem nie. Die feit is dat baie mense wat dit goed bedoel, elke dag met stres en depressie rondloop omdat hulle nie nee kan sê nie. Hulle vergeet dat Jesus hulle voorbeeld is en dat Hy gereelde tye van rus en vernuwing gehad het.

Die antwoord lê daarin dat jy: 1) Jou lewe onder die leiding van die Heilige Gees plaas; 2) Leer om eerste dinge eerste te stel; 3) Besef dat jy ook behoeftes het; 4) Nie verwag dat almal sal verstaan wanneer jy grense daar stel nie. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken…’ (Spreuke 17:17 NLV), nie net wanneer jy aan hulle eise voldoen nie. Jy moet dus leer om grense te stel, om sodoende God se wil vir jou lewe te vervul.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29