Leef met integriteit by die huis

2024-02-21
Genesis 19:14 NLV

Maak jou lewe ‘n ope boek. Vestig ‘n waardesisteem waarteen alles in die lewe geoordeel word. Wandel met God; behou jou integriteit by die werk en by die huis en jy sal elke keer die regte besluit neem. Lot het dit nie gedoen nie en hy het duur daarvoor betaal. ‘Lot is toe vinnig na buite om sy dogters se aanstaande mans te vertel: ‘Maak gou, gaan uit die stad uit! Die Here gaan dit verwoes!’ Maar die jong mans het gedink hy maak ‘n grap’ (vers 14 NLV).

Ouers, wanneer jy jou integriteit verloor, verloor jy jou geloofwaardigheid. Pas dus jou kinders fisies en emosioneel wanneer hulle jonk is en soos hulle ouer word, op. Leer jou seun om meisies te respekteer en praat met die seuns wat jou dogter op afsprake neem. Maak seker dat jy kontrolleer wat hulle en jy op die televisie en op die internet kyk. Dit beteken nie dat jy nie pret mag wees nie. Wys jou ligter kant vir jou kinders. Moenie so behep met werk of die kerk wees dat jy preuts of vervelig is nie. ‘Blydskap laat ‘n mens se gesig straal…’ (Spreuke 15:13 NLV).

Toe Lot sy familie probeer waarsku het, het hulle nie na hom geluister nie. Was hy te besig om ‘n bestaan te maak om hulle te leer wat die belangrikste in die lewe was? Het hy een ding gesê en ‘n ander gedoen? Ons weet nie. Maar hoe jy ook al daaroor dink, sy verlies was tragies. Die waarheid is dat jou integriteit, of die gebrek daaraan, gevolge sal hê, nie net in jou eie lewe nie, maar ook in jou kinders se lewens.

Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 15:1-14; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14