Laat jou kinders hulle kindertyd geniet

2023-07-30
Genesis 33:14 DB

Daar is deesdae ‘n tendens onder sommige ouers wat probeer om hulle kinders te gou te laat grootword. Hulle jaag hulle deur die mylpale van hul kindertyd en stoot hulle in die woelinge van adolessensie in. Dis die gevolgtrekking van die ontwikkelingsielkundige, dr David Elkind, wat hierdie kulturele fenomeen die ‘Haastige Kind sindroom’ noem.

Dit vind plaas wanneer ouers hul kinders aanmoedig om soos tieners op te tree, soos om grimering vir hulle voorskoolse dogters te koop en toe te laat dat hul kinders in hul vroeë tienerjare ernstige verhoudings aanknoop. Hulle behandel hulle kinders meer soos volwassenes, verwag van hulle om volwasse besluite te maak, trek vir hulle ontwerpersklere aan en onderwerp hulle veral aan die grafiese seksualiteit op televisie, in musiekvideos, rolprente en op die internet.

Jare gelede het ouers die noodsaaklikheid van ‘n veilige en ordelike vooruitgang deur die kinderjare verstaan. Daar was kulturele merkers wat die ouderdomme waarop spesifieke gedrag en aktiwiteite as toepaslik of onvanpas geag is, gedefinieer het. Vandag het hierdie merkers verdwyn, of hulle is afwaarts geskuif. Dit kan ‘n groot fout wees. Wanneer jy jou kinders behandel asof hulle reeds groot is, word dit baie uitdagend om in die nabye toekoms perke op hul adolessente gedrag te stel. Hoe kan jy byvoorbeeld ‘n aandklokreël vir ‘n dertienjarige, wat geleer is om hom- of haarself as ‘n volwassene te beskou, instel?

Kortom, die ‘Haastige Kind sindroom’ ontneem ons kinders van hul kinderjare en plaas hulle op ‘n onnatuurlike pad wat nadelig vir hul geestelike en fisiese gesondheid is. As jy wys is, sal jy op die raad van Jakob aan sy broer Esau ag slaan: ‘…Ek kom dan rustig met… die kinders agterna…’

Sielskos: 1 Sam 5:1-6:16; Op 11:15-19