Laat Jesus vir jou ‘sê wie jy regtig is’
2019-08-11Matteus 16:18 DB
Petrus die apostel was eers Petrus die visserman. Sy pa het ‘n vloot vissersbote besit en Petrus het heel waarskynlik gedink dat hy eendag die familiebesigheid gaan oorneem. Wanneer die Here egter ‘n plan vir jou lewe het, gaan Hy jou kom opsoek! Dink na oor hierdie fassinerende interaksie tussen Jesus en Petrus: “Jesus vra hulle toe trompop: ‘En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?’ Simon Petrus het nie ‘n oomblik gehuiwer nie: ‘U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.’ Daarop sê Jesus: ‘Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak. Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is…'” (verse 15-18 DB). Daar is ‘n belangrike les hier uit te leer. Wanneer jy ontdek wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het, ontdek jy ook wie jy is en wat Hy jou geroep het om vir Hom te doen. Daar is meer aan die lewe as om veertig uur ‘n week vir veertig jaar lank te werk, om met ‘n goue horlosie af te tree en met jou kleinkinders te speel. Net soos jou DNA van elke ander persoon op die aarde verskil, so verskil jou persoonlike lotsbestemming. Om dit egter te verstaan en te vervul, moet jy ‘van bo gebore word’ (sien Johannes 3:7). Jesus het by Lasarus se graf gesê: ‘…Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook’ (Johannes 11:25 NLV). Die Een wat Lasarus uit die dood opgewek het, kan jou ook geestelik lewendig maak. Soek Hom en Hy sal ook vir jou ‘sê wie jy regtig is.’
Sielskos: Jos 2:1-24; Hand 9:20-30