Laat God dit vir jou uitklaar

2022-12-20
Romeine 12:19 NLV

Wanneer iemand jou seermaak of verraai, gaan dit teen jou grein in om die instink vir weerwraak te weerstaan – veral wanneer daar ‘n geleentheid is om die telling te vereffen en jou vriende jou aanspoor om daaruit munt te slaan. Hulle sê vir jou: ‘Dis net reg en regverdig.’

Voor jy besluit, oorweeg die verhaal in 1 Samuel 24. Koning Saul, wat deur jaloesie verteer was, het elke geleentheid gebruik om Dawid, sy opvolger wat deur God gesalf was, te probeer vernietig. Saul het drieduisend manskappe geneem om hom te probeer vind en dood te maak. Deur goddelike ingryping het Saul gestop om in ‘n groot grot, waar Dawid en sy manne weggekruip het, te rus. Dawid se manne het gesê: ‘Nou is die perfekte geleentheid om hom dood te maak en sy troon in te neem.’ Dawid het egter net ‘n stukkie van Saul se mantel afgesny en dit later vir hom gewys as bewys dat hy die koning se lewe gespaar het. Dawid se manne het sekerlik sy strategie as belaglik beskou, maar Dawid het volgens ‘n ander kode gelewe – God se Woord! Hy het vir sy manne gesê: ‘…Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand die gesalfde van die Here aantas en nog onskuldig wees?’ (1 Samuel 26:9 NLV).

Die Bybel sê dat ons onsself nie moet wreek nie. Dis God se gebied – bly daaruit! (sien Romeine 12:17-21). Wat moet jy dus doen? Wees voorbereid om strydig met jou instinkte op te tree! Die Bybel sê: ‘…As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors… deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:20-21 NLV). Sal dit die vyand verander? Miskien, miskien nie. Dit sal egter jou houding verander en God sal jou daarvoor seën.

Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:12-24; Ps 57; Spr 30:24-28