Laat God jou omvorm

2024-02-29
2 Korintiërs 5:17 NLV

Wat sal jy graag aan jouself wil verander? Hoe sou jy dit verander? Wat sou jou eggenoot graag wou hê jy moet verander? Hoe sou jy die sin: ‘Dis tipies van my om….’ voltooi? Altyd laat te wees? Nie op ‘n dieet te bly nie? Die verkeerde ding te sê? In woede uit te bars? Hartseer te wees? Jeremia stel dit so: ‘…Kan ‘n luiperd sy kolle laat verdwyn? Dink julle miskien dat julle skielik kan begin goeie dinge doen nadat julle gewoond was om kwaad te doen?’ (Jeremia 13:23 NLV). Jy sê: ‘Dan is dit seker hopeloos.’ Nee, dis waar God se lewensveranderende krag inkom. ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV).

Wanneer ons ons lewens aan Christus toewy, is ons nie meer dieselfde nie; ‘n nuwe lewe het begin. Dis hoekom die Bybel sê dat ons ‘wedergebore’ is. Ons het onmiddellik ‘n nuwe gesindheid, sowel as die inwonende Heilige Gees. Dit maak die verskil. Net soos jou eerste geboorte die begin van jou lewe was, so is die nuwe geboorte die begin van hierdie nuwe lewe.

Dit word deur ‘n lewenslange proses wat in Romeine 12:2 uitgebeeld word, gevolg: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (NLV).

Sielskos: 1 Kon 15; Matt 18:15-35; Ps 96; Spr 6:12-15