Kry ‘n mentor (4)

2024-10-15
Johannes 15:15 NLV

Die mentor wat jy kies moet aan jou beskikbaar wees. Jesus het vir diegene wat Hy gementor het gesê: ‘Ek noem julle nie meer slawe nie, want ‘n slaaf weet nie altyd wat sy eienaar doen nie. Ek het julle vriende genoem omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het’ (vers 15 NLV). Jy het tyd met jou mentor nodig om vir hom of haar vrae te vra en uit sy of haar antwoorde te leer.

Dr John Maxwell skryf: ‘Die beste raad wat ek op die gebied van beskikbaarheid kan gee, is dat wanneer jy ‘n mentor soek jy nie te gou te hoog moet skiet nie. As jy dit oorweeg om vir die eerste keer die politiek te betree, het jy nie die raad van die president van die Verenigde State nodig nie. As jy ‘n hoërskoolleerling is wat daaraan dink om tjello te leer speel, hoef jy nie deur Yo-Yo Ma gementor te word nie. As jy net met jou loopbaan begin, moenie verwag om uitgebreide mentortyd by die uitvoerende hoof van jou organisasie te kry nie. Hoekom nie? dink jy dalk. Eerstens, wanneer jy met jou loopbaan begin, kan byna al jou vrae deur iemand twee of drie vlakke bo jou (nie tien nie), beantwoord word. Hulle antwoorde sal vars wees omdat hulle onlangs die kwessies waarmee jy te doen het, hanteer het. Ek sê nie jy moet nooit na die boonste vlak gaan nie. Ek sê, bestee die meeste van jou tyd om gementor te word deur mense wat beskikbaar, gewillig en geskik vir die stadium van jou loopbaan, is.’

Sielskos: Eks 25-27; Joh 3:22-36; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22