Kry ‘n mentor (3)
2024-10-141 Korintiërs 11:1 NLV
Jou mentor moet nie net professionele uitnemendheid ten toon stel en vaardighede hê waaruit jy kan leer nie, maar moet ook iemand wees met karaktereienskappe wat die moeite werd is om na te volg. Bernie Madoff was een van die invloedrykste en gesogste makelaars in Wall Street. Hy het egter in die tronk opgeëindig nadat hy ‘n multibiljoen Ponzi skema bedryf het wat die lewens van individue, maatskappye en selfs regerings verwoes het. Talle akteurs, atlete, politieke leiers en sakebestuurders poog deesdae om hul posisie as rolmodelle te ontken alhoewel mense hulle steeds volg en hul gedrag naboots. Hulle wil graag hê dat mense tussen hul persoonlike gedrag en hul professionele lewe moet onderskei, maar sulke onderskeiding is nie regtig moontlik nie.
Terwyl jy na rolmodelle en mentors soek, moet jy hul persoonlike lewe net so deeglik soos hul openbare optrede ondersoek. Jou waardes sal deur hulle s’n gevorm word, moet dus nie terloops of onverskillig wees oor wie jy besluit om te volg nie. Paulus skryf: ‘Volg julle dan my voorbeeld, soos ek weer Christus s’n volg.’ Jy moet seker maak dat die persoon in wie se voetspore jy volg, Christus se voetspore volg.
Hoekom is dit so belangrik? Omdat daar ‘n oudit gaan wees! Wat jy ook in jou lewe bou, sal by die regterstoel van Christus geëvalueer word en jy sal dienooreenkomstig beloon word. ‘Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly…’ (1 Korintiërs 3:13-15 NLV).
Sielskos: Eks 22-24; Joh 3:1-21; Ps 89:1-14; Spr 26:17-19