Kom ons werk saam
2024-02-111 Korintiërs 3:9 NLV
Die Bybel sê ons moet mekaar liefhê, eer en saam met mekaar werk. Hoekom doen ons dit dan nie? As gevolg van ons ego’s! Ons dink ons kan alles self doen, maar dis nie die realiteit nie. Die vraag is dus nie of jy alles op jou eie kan doen nie; die vraag is wanneer jy gaan besef dat jy nie kan nie? Die filantroop Andrew Carnegie het verklaar: ‘Dit is ‘n groot stap in jou ontwikkeling wanneer jy besef dat ander mense jou kan help om ‘n beter werk te doen as wat jy alleen kan doen.’
Nadat Hy sy dissipels vir die bediening opgelei het, het Jesus hulle in pare uitgestuur. Hoekom het Jesus dit so gedoen? Om verskeie redes: om mekaar te keer om van die pad af te dwaal, om mekaar verantwoordbaar te hou, om mekaar moed in te praat wanneer dinge swaar gaan en om mekaar se swakpunte met sterkpunte aan te vul. Ons almal het ‘blinde kolle’ en ons het iemand met 20/20 visie in daardie areas nodig om ons te help om dinge op die regte manier te sien.
Toe Moses in Eksodus 17 sy hande opgehou het (wat gesimboliseer het om na God se hulp uit te reik), het Israel se leërs die Amalekiete oorwin. Toe Moses egter moeg word en sy hande laat sak, het die geveg teen Israel gedraai. Wat was die oplossing? ‘…Aäron en Hur het hom op ‘n klip laat sit. Hulle het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou totdat die son ondergegaan het. Josua kon toe Amalek en sy volk verpletterend verslaan’ (Eksodus 17:12-13 NLV). ‘n Paar vrae om oor na te dink: Wie hou jou hande op? Wie se hande hou jy op?
Sielskos: Eks 20:13; Gen 4:8-16; Spr 18:21; Matt 5:21-22