Kinders grootmaak

2023-02-03
Spreuke 24:3 NLV

By ‘n konferensie vir onderwysers, het een kollega neerhalend vir ‘n ander een se vrou gevra: ‘En watse werk doen jy, skat?’ Die man het later geskryf: “My vrou het teruggekap: ‘Ek sosialiseer twee Homo sapiens in die dominante waardes van die Joods-Christelike tradisie sodat hulle die instrumente kan wees vir die transformasie van die sosiale orde in die soort eskatologiese utopie wat God van die begin van die skepping af wou hê.’ Toe het sy ewe gevra: ‘En watse werk doen jy?’ Die vrou het nederig geantwoord: ‘Ek…ek… gee klas in sosiologie.'”

Die Bybel sê: ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (vers 3 NLV). Wysheid is om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê. Insig is die vaardigheid om met begrip te reageer. As jy sukses in alles in die lewe behaal, maar by die huis misluk, sal geen van jou suksesse saak maak nie.

Een skrywer merk op: ‘Ons moet ons kinders met lig vul sodat hulle dit wat donker is kan onderskei. Ons moet hulle help om ‘n lewe van vrede te kultiveer sodat hulle onenigheid kan herken. Ons moet hulle leer wat reg is sodat dit wat verkeerd is, duidelik daarmee kontrasteer. Ons moet vir hulle die soet reuk van die waarheid aanbied sodat hulle ‘n leuen kan ruik. Ons moet hulle selfvertroue in Christus opbou sodat hulle nie maklik deur ander mense se opinies afgebreek sal word nie. Ons moet hulle fondasie op ‘n rots bou sodat hulle onstabiele grond sal herken. Ons moet hulle leer om vir wysheid te bid sodat hulle besef dat om slim te wees, nie genoeg is nie.’

As ouers, mag ons nie dadelik die opbrengs op ons beleggings sien nie, maar ‘…as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV).

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30