Kies vreugde

2020-04-23
Filippense 2:14 NLV

Dis amper onmoontlik om kroniese klakouse te help. Jy kan hulle nooit tevrede stel nie, maar hulle wil nie hê dat jy moet ophou probeer nie. Later voel jy vasgevange. As jy eers ‘n reputasie as ‘n kroniese klakous gekry het, sal mense jou soos die plaag vermy en sal jy eensaam en ongewaardeerd voel. Die kans is goed dat jy nooit regtig sal verstaan hoekom nie! Gesindhede gebeur nie net nie – jy kies hulle. Paulus skryf: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ (Filippense 4:4 NLV). Die Psalmdigter het geskryf: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (Psalm 118:24 NLV). Let op dat hy nie sê: ‘Gister was die dag wat die Here gemaak het, hoe gelukkig was ek nie toe nie,’. Of: ‘Môre sal die dag wees wat God gemaak het, ek sal uithou tot dan,’ nie. Nee, hierdie dag is ‘n gawe van God! ‘n Klaery is dikwels self-gesentreerd; dit gaan oor dit waarvan jy hou en nie hou nie. Dit is self-gefokus. Ware vreugde is ‘n keuse. Dit is die voorreg van diegene wat hulle aan iets groters as hul eie geluk toewy. Daar is besluite wat jy elke dag moet maak, soos wat jy gaan eet, wat jy gaan aantrek – en die gesindheid wat jy gaan uitstraal. Paulus was in die tronk met geen vooruitsig om vrygelaat te word nie, toe hy geskryf het: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ Sy omstandighede het nie sy vreugde gedikteer nie, sy fokus het! Dieselfde geld vir jou. ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:16-18 NLV). Kies dus vandag vreugde!

Sielskos: Dan 3-4; Mark 3:20-35; Ps 7:1-9; Spr 10:16