Kies vandag die regte houding

2023-04-25
Romeine 12:2 NLV

Lank voordat die volgende woorde: ‘Die grootste ontdekking van my generasie is dat mense hul lewens kan verander deur hul houdings te verander,’ deur William James, die vader van Amerikaanse sielkunde, gesê is, het God gesê: ‘Want soos hy in sy siel bereken, so is hy….’ (Spreuke 23:7 AFR53).

Dikwels is dit ons gedagtes, nie ons omstandighede nie, wat ons geluk bepaal. Ons hou aan dink dat ons gelukkig sal wees wanneer sekere dinge gebeur. Sommige moeders sal byvoorbeeld sê: ‘Wanneer Jannie laerskool toe gaan, sal ek gelukkig wees.’ Hulle is dan gelukkig, vir ‘n tydjie. Dan: ‘Wanneer Jannie hoërskool klaarmaak, sal ek gelukkig wees.’ Hulle is dan, ten minste vir die Desembervakansie, gelukkig. Vervolgens bring Jannie se gradeplegtigheid dieselfde belofte mee; so ook sy troue en die geboorte van die eerste kleinkind. Die probleem is egter dat die ma nie geleer het om tussen ‘gebeurtenisse’ gelukkig te wees nie.

Wanneer jou geluk deur iets buite jouself beheer word, sal jy altyd mense, plekke en dinge se gyselaar wees. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie – ‘n slagoffer van omstandighede buite jou beheer. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees’ (Psalm 34:2 NLV). Dawid het die regte houding gekies en jy moet dieselfde doen!

Jy moet dit ook onderhou. Dis die moeilike deel. Dis soos die boer wat gesê het: ‘Die moeilikste ding van koeie melk – is dat hulle nie gemelk bly nie!’ Dis dieselfde met houding; jy moet elke dag aan hom werk deur jou denkpatrone te vernuwe. Jy doen dit deur jouself in God se Woord te verdiep en sy Woord in jouself te laat wortelskiet. Doen jy dit gereeld?

Sielskos: Dan 3-4; Matt 4:1-7; Ps 7:1-9; Spr 10:16