Kies die regte houding

2024-09-11
Filippense 4:8-9 NLV

Een skrywer sê: ‘Die navorser Sheena Iyengar het gevind dat die gemiddelde persoon daagliks omtrent sewentig bewustelike besluite maak. Dis 25,550 besluite ‘n jaar. Oor sewentig jaar is dit 1,788,500 besluite. Albert Camus het gesê: ‘Die lewe is ‘n som van al jou besluite.’ As jy al daardie 1,788,500 besluite bymekaar sit, is dit wie jy is. Victor Frankl was ‘n briljante dokter wat deur die Nazis in ‘n konsentrasiekamp opgesluit is. Hulle het sy lewensbestaan weggevat, sy besittings gekonfiskeer, sy waardigheid gespot en sy familie doodgemaak. Hulle het hom in ‘n sel waaruit hy nie kon ontsnap nie, opgesluit. Hy het egter ‘n deur gevind waarvan sy wagte nie geweet het nie: ‘Alles kan van ‘n mens weggevat word behalwe een ding: die laaste van die menslike vryhede – om jou houding asook jou eie pad in enige gegewe omstandigheid te kies.’

Hy het gevind dat wanneer sy omstandighede elke buitedeur vir hom toemaak, dit aan hom die deure wat baie meer saakmaak openbaar – die deure waardeur ‘n siel vrees kan verlaat en moed kan binnelaat, haat kan verlaat en vergifnis kan binnelaat, onkunde kan verlaat en kennis kan opdoen. Hy het ontdek dat sy wagte inderwaarheid baie meer vasgevang was – deur wreedheid, onkunde en dwase gehoorsaamheid aan barbaarsheid – as wat hy deur mure en doringdraad gevange gehou is. Sommige mense besef dit en word vry; sommige mense besef dit nooit en bring hul lewens as gevangenes deur.’

Die verskil is die deur wat jy kies en die houding wat jy kies. Dis hoekom Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is…’ (vers 8 NLV). Kies vandag die regte houding!

Sielskos: Kol 1-2; Luk 20:41-47; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21