Kies die regte gedagtes

2023-01-22
Kolossense 3:2 NLV

Marcus Aurelius het gesê: ‘Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak.’ Ongelukkig kan jy nie ophou om verkeerde gedagtes te dink deur net harder te probeer nie. Jy kan egter die volgende doen: Jy kan jou gedagtes beheer. Die mees basiese beheer wat ons ten opsigte van ons gedagtes het, is jou vermoë om te kies waaraan jy aandag gee. Op enige gegewe oomblik is dit binne jou kapasiteit om jou gedagtes in een rigting of ‘n ander te stuur. Dit help verduidelik hoe twee mense in presies dieselfde omstandighede heeltemal verskillende perspektiewe en ervarings kan hê.

Die volgende uittreksels uit ‘n hond en ‘n kat se dagboeke mag jou dalk laat glimlag. Hopelik sal dit jou egter ook laat dink aan die verskil wat jou houding kan maak. Hond se dagboek: 8:00. Het hondekos geëet. My gunsteling aktiwiteit! 9:00. Het in die kar gery. My gunsteling aktiwiteit! 9:40. Het in die parkie gestap. My gunsteling aktiwiteit! 10:30. Het ‘n vryfie agter die ore gekry. My gunsteling aktiwiteit! 12:00. Het middagete geëet. My gunsteling aktiwiteit! 13:00. Het in die gras gespeel. My gunsteling aktiwiteit! 15:00. Het my stert geswaai. My gunsteling aktiwiteit! 17:00. Het kos geëet. My gunsteling aktiwiteit! 19:00. Het met my bal gespeel. My gunsteling aktiwiteit! 20:00. Het saam met my mense televisie gekyk. My gunsteling aktiwiteit! 23:00. Het op die bed geslaap. My gunsteling aktiwiteit! Kom ons kyk nou na die kat. Kat se dagboek: Dag 983 van my gevangenskap. My ontvoerders hou aan om my met bisarre hangende voorwerpe te tart. Die een ding wat my help deurdruk, is my droom om te ontsnap.

Twee skepsels… soortgelyke situasies… totaal verskillende ervarings. Wat maak die verskil? Een het die regte gedagtes gekies; die ander een het nie.

Sielskos: Gal 5:13-26; 1 Sam 17:4-51