Jy word gesnoei (2)

2023-02-12
Psalm 119:71 NLV

God gebruik probleme, druk en mense om jou te snoei om meer vrugte te dra. Is jy van enige van hierdie drie dinge in jou lewe bewus? God kan alle situasies in jou lewe gebruik om jou te help groei, mits jy die regte houding het. Hy sal ‘n groot frustrasie, ‘n finansiële terugslag, ‘n skielike siekbed, ‘n gebroke huwelik, ‘n rebelse kind of selfs die dood van ‘n geliefde gebruik om jou aandag te kry.

Jy sê: ‘Maar dit maak so seer!’ Ja, om gesnoei te word is pynlik. Soms sal ‘n tuinier ‘n boom snoei totdat dit soos ‘n groot tandestokkie lyk. Dis nie ‘n mooi gesig nie. Die snoeiproses is egter positief. God is nie vir jou kwaad nie. ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV). God straf nie sy opregte kinders nie. Jesus het jou straf op Hom aan die kruis geneem. God se snoeiwerk is vir jou eie beswil, om meer vrugte in jou lewe te kan dra.Kan God se snoeiwerk geen resultate oplewer nie? Ja, indien jy nie saamwerk nie.

Hoe produseer God ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV), in jou lewe? Hy produseer hierdie kwaliteite deur jou toe te laat om voor situasies en mense met presies die teenoorgestelde kwaliteite te staan te kom. Hy leer jou om lief te hê deur jou te midde van moeilike mense te plaas. Hy leer jou geduld deur toe te laat dat jy gefrustreer raak. Jy vra: ‘Hoe kan ek met God saamwerk?’ Die Bybel sê vir jou: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:16-18 NLV).

Sielskos: Matt 5:1-12; Jos 10:5-14