Jy moet rus
2019-08-12Markus 6:31 NLV
Hoekom het Jesus tyd geneem om te rus? Sodat wanneer Hy gewerk het, Hy op sy beste was. Vandag wil Hy hê dat jy moet weet dat as jy nie ‘n breuk neem nie, jy nie een sal kry nie. Die eerste struikelblok wat jy sal moet oorkom, is skuldgevoelens. Dis wat van ons werksverslaafdes maak. Ons voel skuldig en sê vir onsself: ‘Daar is net soveel om te doen.’ Jesus het die lewe anders benader: ‘Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat [Hy en sy dissipels] selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hulle het toe per boot na ‘n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees’ (verse 31-32 NLV). Geen tyd om te eet, te veel mense wat kom en gaan, geen tyd om na jouself om te sien nie – beskryf dit jou lewe tans? Jy brand nie uit wanneer jy binne die wil van God lewe nie! Jesus het gesê: ‘Want my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra’ (Matteus 11:30 NLV). Die rede hoekom Hy dit kon sê, is omdat mense nie sy agenda bepaal het nie, maar sy hemelse Vader het. Die Psalmdigter het gesê: ‘Hy laat my rus in groen weivelde…’ (Psalm 23:2 NLV). Sal jy nie eerder uit keuse na die park toe gaan as onder dwang na die hospitaal nie? God sal jou nie soontoe stuur nie, maar jou eie gebrek aan wysheid kan. Vandag sê Jesus vir jou dat jy moet rus en as jy wys is, sal jy dit doen!
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Matt 16:13-28; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26