Jy moet na die behoeftiges omsien (3)

2023-04-18
Psalm 41:2 NLV

Driekwart van die wêreld se inkomste eindig in die sakke van 20 persent van sy populasie op. Dink so daaraan: tien suiwelboere besit tussen hulle tien koeie. Die koeie is egter nie eweredig verdeel nie. Dit is meer soos volg: Twee boere besit agt koeie, terwyl die ander agt boere twee koeie deel. Klink dit reg? Die twee boere wat agt koeie besit, mag dalk maklik sê: ‘Ek het vir my koeie gewerk.’

Die vraag is egter: watter verantwoordelikheid plaas God op diegene wat ‘het’ teenoor diegene wat nie ‘het’ nie? Eerstens, dat jy jouself moet toelaat om besorgdheid en medelye te voel. Tweedens, dat jy uit jou gemaksone beweeg en iets daaraan doen. ‘Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die Here hom red. Die Here sal hom beskerm en hom die lewe laat behou. Hy gee aan hom voorspoed in die land en lewer hom nie oor in die mag van sy vyande nie. Die Here sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed’ (verse 2-4 NLV).

Wanneer jy die armes seën, seën God jou. Dus, soos een leier geskryf het, moet jy die volgende jou gebed maak: ‘Here, U het beloof dat ons altyd die armes in ons midde sal hê. Help my om seker te maak dat die teenoorgestelde ook waar is: Dat ek altyd te midde van die armes is – besig om te help, te bemoedig en hand by te sit waar ek kan. Stel my in staat om die onsigbare God lief te hê deur die baie sigbare armes in my hoek van die wêreld te dien. Help my om kreatief te wees sonder om neerhalend te wees, bemoedigend te wees sonder om egotisties te wees en vreesloos te wees sonder om dwaas te wees. Amen.’

Sielskos: 1 Kor 4-6; Matt 1:18-25; Ps 43; Spr 10:10