Jy moet na die behoeftiges omsien (1)

2023-04-16
Handelinge 6:1 DB

Aangesien die regering in die tyd van die Nuwe Testament nie na weduwees en weeskinders omgesien het nie, het die kerk verantwoordelikheid daarvoor geneem. Ongelukkig het vooroordeel sy lelike kop uitgesteek en het die Joodse weduwees en weeskinders voorkeurbehandeling bo die ander gekry. Hoe het die kerkleiers daarop gereageer? Hulle kon dit maklik afgewys het, soos ons so dikwels doen. Hulle kon gesê het: ‘Ons is geroepe om siele, nie mae nie, te voed. Ons hanteer kwessies van sonde en redding, nie van sandale en sop nie.’

Hier is egter wat hulle gedoen het. Eerstens, het hulle ‘n vergadering belê om die probleem op te los (sien Handelinge 6:2). Hulle het elke gemeentelid laat verstaan dat hulle armoede ernstig opneem en dat elkeen persoonlik voor God verantwoordelik is om iets daaraan te doen. Die Skrif steun nie gedwonge kommunisme nie, maar dit skryf duidelike Gees-geleide vrywilligerswerk voor.

Tweedens, het hulle die probleem aan hulle slimste en beste mense gegee. Hulle het sewe mans – gerespekteerde gemeentelede, vol van die Heilige Gees en wysheid – gekies om die verantwoordelikheid oor te neem (sien Handelinge 6:3).

In plaas daarvan om ons kinders vir belangrike velde soos medies, die regte, politiek of die regering voor te berei, kom ons leer hulle dat om na behoeftiges om te sien, een van God se hoogste roepings is.

Hoekom gaan meer as ‘n biljoen mense elke aand honger bed toe? Hoekom sterf meer as dertigduisend kinders (een elke drie sekondes) aan wanvoeding en voorkomende siektes wanneer ons iets daaraan kan doen? Niemand kan alles doen nie, maar God het elkeen van ons geroep om iets te doen! ‘Suiwer en onbevlekte godsdiens… is dat ons weeskinders en weduwees in hulle swaarkry versorg, en dat ons nie toelaat dat die wêreld ons besmet nie’ (Jakobus 1:27 NLV).

Sielskos: 2 Kon 6:1-23; Ef 1:15-23