Jy moet die pad stap

2023-04-03
Josua 1:3 NLV

Die boek Job het twee-en-veertig hoofstukke. In die eerste een-en-veertig hoofstukke, ervaar Job die verlies van sy gesondheid, sy rykdom en sy familie. Hy bevraagteken God oor en oor, maar kry net stilte as ‘n antwoord. Hy hou egter aan om die pad met God te stap en sê: ‘…Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar’ (Job 23:10 NLV).

Let drie dinge op: Eerstens, om goud te word, moet jy deur die vuur gaan. Tweedens, die hitte van die vuur en die tyd wat die metaal in die vuur moet bly, word deur die suiweraar bepaal. Derdens, wanneer jy die proses probeer aanjaag, sal jy met ‘n minderwaardige stof, soos tin, opeindig. God het vir Josua gesê: ‘…Ek [sal] elke plek waar julle kom vir julle gee.’ Met ander woorde, jy moet die pad stap om te kry wat God jou beloof het.

Die Amerikaanse digter C.V. Wright het geskryf: ‘The man who succeeds never waits for the crowd. He strikes out for himself. It takes nerve, it takes a lot of grit, but the man that succeeds has both… Success is the accomplishment of that which people think can’t be done.’

Selfvoldaanheid, moegheid, twyfel, kritiek en moedeloosheid is alledaagse struikelblokke wat voortdurend oorkom moet word. Hoe doen mens dit? Jy hou aan om die pad te stap! Jy sal ‘n ooreenstemmende draad regdeur die Bybel opmerk: God daag op wanneer jy Hom regtig nodig het en doen vir jou wat jy nie vir jouself kan doen nie. Die res van die tyd – wat die meeste van die tyd is – versterk Hy jou en sê: ‘Jy moet die pad stap.’ Dit is die woord vir jou vandag!

Sielskos: Lev 1-4; Luk 22:63-71; Ps 18:1-29; Spr 9:4-6