Jy kan verander
2024-10-09Filippense 4:13 NLV
Selfhelp boeke beweer soms dat jy jou lewe in vyf of tien eenvoudige stappe kan verander. Dit verg egter meer as dit om wesenlike en blywende veranderinge in jou lewe te maak. Eerstens vind verandering plaas deur krag uit God se krag te put. Paulus skryf: ‘Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 12-13 NLV).
Tweedens vind verandering deur bestendige en vasberade harde werk en moeite plaas. ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV). Die sleutel is om te verstaan dat een slegte dag jou nie ‘n mislukking maak nie; dit hou nie vir ewig aan nie, dis net ‘n slegte dag. Nadat jy so ‘n dag gehad het, moet jy net weer die volgende dag op koers begin. Moenie tou opgooi nie. Die lewe is ‘n opeenvolging van op en af, stop en begin. Môre is ‘n splinternuwe dag. Wat nou nodig is, is om jou belofte aan jouself te vernuwe om veranderinge in jou lewe te maak en weer by die plek waar jy opgehou het, te begin. Indien nodig, vra God se vergifnis, vergewe jouself en begin weer vorentoe stap. Fokus op jou doelwit, nie op die feit dat jy van die wa afgeval het nie. Moenie daarin vasgevang raak om ander mense of jouself te blameer nie. Laat dit gaan en beweeg aan. Besef dat jy met God se krag die volgende moeilike situasie beter sal hanteer.
Sielskos: Eks 13-15; Joh 1:43-51; Ps 131; Spr 26:7-9