Jy kan jou selfpersepsie verander

2023-02-16
1 Korintiërs 15:10 NLV

Die wedergeboorte begin ‘n transformerende proses oor hoe jy oor jouself dink. Dit moet egter elke dag volgehou word deur jou gedagtes te vernuwe. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).

Wanneer jou gedagtes dus deur God se Woord verander word, gebeur twee dinge: a) jy weet wat sy wil vir jou is, en b) jy weet dat Hy tevrede met jou is. Wanneer hierdie twee dinge gebeur verander jou selfpersepsie, aangesien jy nie meer aan die genade van ander mense se opinies of evaluering oorgelaat word nie.

Ons opinie van onsself word diep deur die menings van die gesagsfigure in ons vormingsjare, geraak. As ons ouers geneig was om ons af te skeep of te ignoreer, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat ons nie hulle tyd, aandag en liefde werd was nie, wat ons selfwaarde afgebreek het. Soos ons egter in God se Woord volwasse word, leer ons om in die lig van ons nuwe selfbeeld te wandel en verkry ons nuwe selfwaarde.

Ongeag waardeur jy in die lewe is of die foute wat jy gemaak het, sal God jou help om te besef wie jy is en wat Hy jou begenadig het om te doen. Voor Paulus vir Christus ontmoet het, het hy Christene doodgemaak. Nadat hy egter vir Christus ontmoet het, het hy geskryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie…’

Wanneer jy God se goedheid verstaan – sy onverdiende, onfeilbare guns teenoor jou – sal dit jou persepsie van jouself ingrypend verander.

Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27