Jy kan hierdie reus oorwin

2022-11-26
1 Samuel 17:47 NLV

Om reuse soos verslawing, wrokkigheid, vrees, wellus, afguns, trots en woede te oorwin, moet jy hierdie drie Skrifgedeeltes verstaan:

1) ‘Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Goliat is as baba gebore, maar hy het ‘n reus geword. Ons reuse is dikwels klein sondes wat ons miskyk en toelaat, totdat hulle ‘n lewe van hul eie aanneem en terugkom om by ons te kom spook. Soos jy egter begin om nee vir klein impulse te sê, sal jy die krag kry om dit vir groter impulse te sê.

2) ‘Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan’ (1 Samuel 17:48 NLV). Dawid het Goliat reg van voor in die gesig gestaar. Jy moet jou reus in die lig dwing en hom nie in jou lewe teruglaat nie. Stel grense! Indien nodig, maak jouself teenoor iemand wat jou kan versterk en aanmoedig, aanspreeklik. Bly uit die verkeerde geselskap uit. Bowenal, moenie God in die lig van jou probleem beskou nie, sien jou probleem in die lig van God.

3) ‘…Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!’ Jy is nie alleen in die geveg nie. God wil jou help om ou gewoontes te oorkom en nuwe gedrag te vestig. Wanneer jy jou bekeer, wat beteken om ‘n ommeswaai te maak en jouself voor te neem om saam met God te wandel, sal Hy jou die krag gee om die reus wat jy in die gesig staar, te oorwin. God het nog nooit ‘n stryd verloor nie en wanneer jy Hom nooi om by jou aan te sluit, sal jy wen.

Sielskos: 2 Kron 13-17; Joh 11:38-44; Ps 95; Spr 27:17-19