Jy het meer om te leer

2024-09-19
Hosea 6:3 NLV

Om ‘n ‘geloofsverklaring’ te hê is ‘n goeie ding, want dit maak aan mense jou oortuigings en waardes en jou standpunt oor kwessies, bekend. Dit bevat egter ook ‘n sekere mate van gevaar, aangesien jy kan begin glo dat jy alles oor die onderwerp weet. Die Bybel daag ons uit om aan te hou leer en geestelik te groei: ‘Kom laat ons die Here ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy!..’ Die Boodskap vertaal dit as volg: ‘Kom ons maak ons vas aan die Here. Ons span ons in om Hom beter te leer ken…’

Duidelik wil God hê dat ons moet verstaan dat daar meer is om van Hom te leer as wat ons dink ons weet. Dis hoekom jy altyd oopkop moet wees. Die dag wat jy ophou om jou ‘in te span’ of jou ‘vas aan die Here’ te maak, is die dag wat jy ophou om van God te leer en geestelik te groei. God het meer om aan jou te openbaar!

Paulus skryf: ‘…Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet. Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime. Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ‘n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het’ (1 Korintiërs 2:9-12 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – jy het meer om te leer.

Sielskos: Mig 5-7; Luk 22:39-53; Ps 24; Spr 24:15-18